Agrisell Logo +27 21 887 0468
You are here: Agrisell / Latest News / Noulenttenheidsondersoek

Noulenttenheidsondersoek

SHOWING ARTICLE 124 OF 197
GALLERY

Noulenttenheidsondersoek

Category Legal

Dit is algemeen om die term “noulettenheidsondersoek” of due diligence (“DD”) te hoor tydens gesprekke wat gevoer word oor die moontlike koop, verkoop, samesmelting of amalgamasie van besighede, asook in gevalle waar ’n derde party dit oorweeg om in ’n besigheid te investeer. Ten spyte van die feit dat voornemende kopers, verkopers en/of beleggers bekend is met die konsep en prosedures van DD-prosedures, word die noodsaaklikheid daarvoor in baie gevalle misken weens die finansiële implikasies wat dit inhou.

’n DD kan in kort beskryf word as ’n behoorlike ondersoek na die werking, strukture en historiese maatskappy sekretariële en korporatiewe rekords van ’n besigheid wat normaalweg in opdrag van ’n voornemende koper en/of belegger gedoen word. Die doel hiervan is om die koper en/of belegger in ’n posisie te plaas om ’n ingeligte besluit te neem voordat die besigheid gekoop word of voordat daar in die besigheid gëinvesteer word.

Dit is egter nie altyd moontlik om ’n standaard DD-prosedure te volg nie aangesien elke transaksie se feite en omstandighede verskil. Die proses wat gevolg moet word en komponente van só ’n ondersoek word bepaal volgens die aard en inhoud van elke transaksie, asook volgens die betrokke partye se behoeftes. Dit is egter ook belangrik om te onthou dat ’n DD ’n tydsame proses kan wees en daarom kan kostes maklik oploop, welke aspek ’n bydraende faktor van die partye kan wees wanneer besluit word wat só proses alles moet insluit.

Onderstaande is egter enkele punte wat in meeste gevalle ’n goeie vertrekpunt is wanneer ’n DD-proses van stapel gestuur word, naamlik –

Besigheidstruktuur en korporatiewe beheer

• In hierdie geval is dit belangrik om te verseker dat die korporatiewe struktuur, korporatiewe rekords en beheer van ’n besigheid in orde en op datum is. Dit kan vasgestel word deur die nodige korporatiewe dokumente en rekords van ’n besigheid na te gaan en indien nodig, die nuutste asook historiese rekords aan te vra by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (“CIPC”)

• ’n Verdere aspek is om te verseker dat die bestaande besigheidstruktuur, soos dit deur die verkoper aan die koper en/of belegger bemark was, behoorlik geïmplementeer is en die nodige bepalings van bestaande wetgewing nagekom was.

Finansiële rekords

• Historiese finansiële syfers en rekords moet nagegaan word om te verseker dat dit ’n korrekte weerspieëling is van die ware finansiële stand van die besigheid.

Belasting

• Dit is belangrik om te verseker dat alle historiese inkomstebelasting verpligtinge nagegaan word ten einde te bevestig of daar nie enige uitstaande verpligtinge teenoor die Suid Afrikaanse Inkomste Diens (“SAID”) is nie. Daar moet ook verseker word dat alle opgawes behoorlik en tydig ingedien was om te verhoed dat daar op ’n later stadium rentes en boetes gehef word wat tot die nadeel van ’n voornemende koper/belegger kan wees.

Bates

• Bates is in baie gevalle materieel tot ’n koop/verkoop en/of samesmelting of amalgamasietransaksie en daarom is dit van kardinale belang om die totale waarde van die besigheid se bates en laste vas te stel.

• Bates kan insluit enige roerende en onroerend bates, asook voorraad, toerusting, intellektuele eiendom ens.

Ooreenkomste

• Bestaande ooreenkomste, hetsy met verskaffers, kliënte, huur en verhuur, verspreiders van produkte ens. kan in baie gevalle ’n bydraende faktor wees tot ’n voornemende koper en/of belegger se besluit om betrokke te raak by ’n besigheid. Indien dit wel die geval is, is dit belangrik om te verseker dat ooreenkomste van hierdie aard behoorlik saamgestel, uitgevoer en geïmplementeer was deur persone met die nodige kundigheid om die voortbestaan daarvan te verseker.

Bogenoemde is slegs enkele aspekte waaraan oorweging geskenk kan word tydens ’n DD-proses, verdere oorwegings kan insluit, aangaande litigasie, werknemers en bestuur van ’n besigheid, die Nasionale Kredietwet ens.

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat wanneer ’n voornemende koper en/of belegger van ’n besigheid die moontlikheid oorweeg om betrokke te raak by ’n besigheid hy/sy daarop geregtig is om ’n DD-prosedure aan te vra. Die doel hiervan is om soveel as moontlik inligting rakende die besigheid in te samel om ingeligte besluite te kan neem. In meeste gevalle sal gevind word dat die voordele wat só ’n proses inhou die koste-implikasie regverdig en om daardie rede word dit kliënte aangemoedig om hierdie as ’n fundamentele aspek van ‘n suksesvolle besigheidstransaksie beskou.

This article is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice. Errors and omissions excepted (E&OE)

Author MHI LAW
Published 29 Sep 2018 / Views -
Disclaimer:  While every effort will be made to ensure that the information contained within the Agrisell website is accurate and up to date, Agrisell makes no warranty, representation or undertaking whether expressed or implied, nor do we assume any legal liability, whether direct or indirect, or responsibility for the accuracy, completeness, or usefulness of any information. Prospective purchasers and tenants should make their own enquiries to verify the information contained herein.
Sign-up for our newsletter
Sign-up for Agrisell's informative monthly newsletter with the latest industry news.