Agrisell Logo +27 21 887 0468
You are here: Agrisell / Latest News / Land Bank Kry Miljarde Vir Nuwe Boere

Land Bank kry miljarde vir nuwe boere

SHOWING ARTICLE 120 OF 197
GALLERY

Land Bank kry miljarde vir nuwe boere

Category Farming

Hierdie berig het oorpronklik in Landbouweekblad en op Landbou.com verskyn. Klik hier vir die oorspronlike berig of besoek www.landbou.com vir die nuutste landbounuus.

Miljarde rand word uit die begroting van twee staatsdepartemente geskuif om te help dat die landbouwaardeketting versterk kan word om werkskepping en uitvoer ʼn groot hupstoot te gee.

Luidens die mediumtermynbegroting wat mnr. Tito Mboweni, Minister van Finansies, in die Parlement ter tafel gelê het, sal die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye én die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming tesame R4,4 miljard aan die Land Bank oorbetaal om ondersteuning aan opkomende boere te gee. Oor die volgende drie tot vyf jaar sal die bank ondersteun word om transaksies van R16,2 miljard aan te gaan om werk in die landbousektor te skep.

Mboweni het gesê ʼn beduidende deel van die geld sal bestee word aan hoogs arbeidsintensiewe gewasse wat op die uitvoermark gerig is. Boonop ontwikkel die privaatsektor finansieringsmodelle waarmee geld van die private en die openbare sektor aangewend sal word om potensiële begunstigdes van die herverdelingsproses te help om toegang tot finansiering te kry vir die aankoop van grond.

Hierdie insiatief spruit uit pres. Cyril Ramaphosa se stimulusplan waar die landbou geïdentifiseer is as ʼn groot dryfveer van ekonomiese herstel, waarvoor die bedryf voorkeurfinansiering moet kry.

Met die aankondiging van die stimulusplan is aangedui dat die Land Bank ʼn groot rol sal speel en dat ʼn raadgewende paneel oor grondhervorming opgestel word om die inisiatief in die sektor te lei.

Luidens die begroting werk die Regering saam met die bank om grondhervorming te versnel en die produktiewe gebruik van grond wat aan begunstigdes oorgedra is, te onderhou.

Ingevolge die grondhervormingsprojek sal begunstigdes huurkontrakte vir 30 jaar vir die grond kry sodat die Land Bank lenings aan daardie boere kan toestaan. Die bank sal ook ʼn kombinasie van lenings en toelaes gebruik om landbouproduksie te verhoog deur middel van die kommersialiseringsprogram vir swart boere. Die bank en die twee staatsdepartemente het reeds in September ʼn ooreenkoms onderteken. Geld van die omvattende landbousteunprogram sal ook toegeken word om entstowwe teen bek-en-klouseer te vervaardig.

Die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye het onlangs besoek afgelê by projekte in Gauteng wat deur die bank ondersteun word. Daar is bevind dat die bank geld aan projekte bestee wat hulself kan finansier. Die komitee sal waarskynlik binnekort sy verslag daaroor in die Parlement ter tafel lê.

Author Joylene van Wyk, Landbou.com
Published 26 Oct 2018 / Views -
Disclaimer:  While every effort will be made to ensure that the information contained within the Agrisell website is accurate and up to date, Agrisell makes no warranty, representation or undertaking whether expressed or implied, nor do we assume any legal liability, whether direct or indirect, or responsibility for the accuracy, completeness, or usefulness of any information. Prospective purchasers and tenants should make their own enquiries to verify the information contained herein.
Sign-up for our newsletter
Sign-up for Agrisell's informative monthly newsletter with the latest industry news.