SHOWING ARTICLE 1 OF 94

Sakkie Nel

Category Agent Profile

Sakkie is ‘n Hantamseun van geboorte en het op die geskiedkundige plaas Soetwater en later Botterkloof in die Calvinia-distrik opgegroei en gematrikuleer waarna hy in die Landbank op Kroonstad begin werk het. Hy is gedurende 1990 na Upington verplaas waar hy vir die afgelope 27 jaar woonagtig is en ook gedurende 2015 afgetree het na 36 jaar diens in die Landbank.

Hy het gedurende April 2016 by die Agrisell-span aangesluit en het sedertdien duisende kilometer afgelê om die Agrisell-naam bekend te stel en te vestig in hierdie unieke deel van die land. Met sy groen landerye en wingerd langs die Oranjerivier bekend as die Groen Kalahari, die pragtige Kalahari-duineveld met sy springbok-en Gemsboktroppe en vaalkameeldoringbome asook die barre Namakwa-en Boesmanland- gedeeltes met hul verafgeleë plase, lê hierdie wêrelddeel met sy verskillende kontraste hom baie na aan die hart! Hy is dus op sy gelukkigste in sy voertuig op pad na iemand waar ‘n behoefte bestaan vir professionele diens.

Sakkie is ‘n optimistiese mense-mens met ‘n positiewe uitkyk op die lewe. Hy het ‘n passie om kliëntediens van hoë gehalte te lewer en sy kennis van landbou-finansiering en bankwese kom handig te pas in die bemarking van plaaseiendomme in sy strewe om die doelwit te bereik.

In sy vrye tyd probeer hy af en toe ‘n gholfstok swaai of rolbal speel en die mooi omgewing inspireer hom soms om ‘n gedig of twee neer te pen of mooi natuurtonele te fotografeer. Sakkie is getroud met diere-liefhebber Marlien. Hulle het twee kinders waarvan Heni en sy vrou tans iewers in Alaska rondvaar en Marlé is met ‘n boer van die omgewing getroud. Daar is ook ‘n klomp honde en voëls op die werf wat deel van die gesin is!

“Vir my is dit is ‘n voorreg om met ‘n onderneming soos Agrisell geassosieer te word. Ek het ‘n tuiste gevind in ‘n plek wat soos een groot familie bedryf word waar integriteit en morele waardes ‘n groot rol speel. In die positiewe atmosfeer wat geskep word kan jy jouself motiveer en tot jou volle potensiaal uitleef. Hierdie gesindheid maak dit ook makliker om met mense te werk.”

Author: Agrisell

Submitted 08 Mar 19 / Views 1316